Monday, March 16, 2009

Sit dit af! SIT DIT AF!

Okay, do keep in mind that this was written by a 17-year-old ;-P - 1999

Ma en pa is Amerika toe vir ‘n maand. ‘n Hele maand. En omdat dit in die middel van die kwartaal is, het hulle in hul ouerlike wysheid summier besluit dat ek by my tannie moet gaan bly. Dis nou sonder om my te vra natuurlik.

Tannie Andra is my pa se suster. Sy is hoof van haar eie maatskappy en volgens die grootmense vreeslik loopbaangedrewe en suksesvol. Sy is nooit getroud nie en vir kinders het sy ook nie lus gehad nie. ‘n Regte, egte oujongnooi. Ons het mekaar nooit baie goed leer ken nie. Sy het nie vreeslik erg aan klein, hiperaktiewe, stout seuntjies gehad nie en ek was definitief een. Nou dat ek daaraan dink…dalk is ek die rede hoekom sy nooit kinders gehad het nie?! Hmm. Ek meen, my ouers het ook gestop na hulle my gehad het. Ek voel nogal effens trots by die blote gedagte dat ek iemand afgesit het van kinders hê. Ek het ten minste my merk gelaat!

“Noem my Andra, jy is mos al groot en ‘tannie’ laat my tog net oud voel.” “Okay,” mompel ek. Natuurlik is sy oud, vyf-en-veertig het sy dan al lankal sien kom en gaan. As sy agtergekom het dat ek nie vreeslik beïndruk is met die idee om vir ‘n maand by haar te sit terwyl my ouers oorsee rinkink nie, het sy haar nie daaraan gesteur nie. Juis daarom, of dalk omdat iemand moes betaal (of dalk net omdat ek sestien is), het ek besluit om te kyk in hoe ‘n kort tydjie ek haar teen die mure kan uitdryf. Dit was nou my tipe uitdaging.

Ek het alles gedoen wat grootmense haat. Ek het gemompel, vra met een-woord-antwoorde beantwoord, my klere deurdie hele huis laat lê en my mure vol afskuwelike prente geplak. Haar reaksie? NIKS. Dit maak nie saak wát ek doen nie. Sy gesels al antwoord ek nie, sy tel my klere op en ignoreer die prente totaal en al.

Ek is stomgeslaan. Sy dryf my teen die mure uit. Alle grootmense sou nou al iets gesê of gedoen het. Enigiets. ‘n Week is verby en ek kry geen reaksie nie. Dit is tyd vir intensiewe taktieke.

My kamer is ‘n doolhof, varkhok, negosiewinkel, waarin geen vierkante sentimeter mat, muur of stoel uitsteek nie. Ek plunder die yskas, eet die koskas leeg en was nie eens ‘n koppie nie. My vriende lê permanent in haar leefvertrek rond en sy het dae laas die afstandbeheer in haar besit gehad. Al my broeke is te groot en sak af. My T-hemp se soom hang uit, ek sleep my voete en elke môre neem dit ‘n halfuur om my hare net die regte manier in my oë te laat hang.

Na twee weke is ek desperaat. Sy kan níe ‘n regte grootmens wees níe. Nie een van hulle kan dit verduur nie. Dit is eers toe – op die randjie van moedeloosheid - dat ek onthou van my CD-speler. Ek glimlag terwyl ek my luiddrugtigste, mins ouervriendelike CD’s begin uitpak. Het jou katvis.

Dit was minder as vier ure terug. Die man langs my gluur my aan as ek weer met die klein TV’tjie voor my se knoppe peuter. Ek glimlag vir hom. Ek het die ontspanning nodig. Hy weet nie hoe hard ek die afgelope tyd gewerk het nie. “Maak asseblief u sitplekgordels vas, die vliegtuig na Amerika gaan binnekort opstyg,” sê die vriendelike vrouestem. Ek moes twee weke lank ‘n tipiese tiener wees.

No comments:

Post a Comment

 
Afrigator